Die Junior Stadsraad is ‘n projek wat deur munisipaliteite geloods word.  Leerders van onderskeie skole dien op hierdie raad.  In die Theewaterskloof Munisipaliteit vorm nege skole deel hiervan.  Die leerders wat Hoërskool Overberg tydens 2017 verteenwoordig het, is Marlette van Zyl, Kim Benjamin, Noni Afrika en Johan van Dyk.

Die doel van die Junior Stadsraad is om toekomstige leiers te ontwikkel.  Elke skool se raadslede is verantwoordelik om ten minste twee projekte deur die jaar aan te pak.  Dit word dan deur ‘n paneel beoordeel en aan die einde van die jaar word ‘n wenner aangewys.  Lede van die Junior Stadsraad moet ‘n voorlegging doen oor die projekte wat hulle beplan en ook ‘n tydlyn waarin dit uitgevoer gaan word.  Leerders word dan beoordeel op die implimentering en uitvoering van die projekte.

Hoërskool Overberg se leerders het hierdie jaar drie projekte aangepak.  Dit het onder andere ‘n liefdadigheidsprojek en die viering van vrouedag ingesluit.  Die eerste projek is “Krismis in July” gedoop.  Dit is geïmplimenteer om minderbevoorregte kinders se winter warmer te maak.  Mense is geïdentifiseer wat gehelp het om mussies te brei.  Fondse is ingesamel vir die aankoop van die wol.  Meer as drie kleuterskole se kinders het as gevolg van hierdie projek warm mussies ontvang.  Hierdie projek was baie suksesvol en het definitief ‘n verskil in die gemeenskap gemaak.

Die ander projek was ‘n Ma-  en Dogter Tee.  Dit is gereël met die oog op Vrouedag en het op die 4de Augustus in die skool se nuwe kafeteria plaasgevind.  Teen die minimale koste van R30 per persoon is die ma’s en dogters met heerlike eet- en drinkgoed getrakteer.  Die burgemeester, Christelle Vosloo, het die funksie bygewoon asook die spesiale gasspreker Felicity Philander.   Die doel van die geleentheid was om die band tussen ma en dogter te versterk.  Daar word beoog om die wins te gebruik om speelgoed vir die kinders van Riemvasmaak, ‘n informele nedersetting,  aan te koop  en uit te gee as deel van die “Krismis in July” projek.

Hoërskool Overberg se raadslede het ons baie trots gemaak met die positiewe verskil wat hulle in ons gemeenskap gemaak het.  Ons is opgewonde oor ons leiers van die toekoms.