Sport

Atletiek

Atletiek word beskou as die toonaangewende sportkode in H.S. Overberg. Dit is die sportkode waaraan die meeste leerlinge deelneem en tydens die Interskole is daar ongeveer 90 atlete wat deel uitmaak van die span. Die atletiekseisoen is ‘n besige een met verskeie byeenkomste wat opmekaar volg en in Januarie word die Graad 8- en Kleurebyeenkoms reeds in die eerste week van skool gefinaliseer.

Vroeg Februarie vind die grootste byeenkoms van die jaar plaas naamlik die Interskole teen Hermanus en Bredasdorp. Hiena volg die Suid-Sone, Suid-Boland en die Boland kampioenskappe kort op mekaar se hakke en tydens die Maart-vakansie vind die SA Atletiek Kampioenskappe plaas. Ons het al verskeie atlete wat S.A.-klere verwerf het, opgelewer.

Atlete word in hulle onderskeie items elk deur ‘n opgeleide afrigter bygestaan en buite– afrigters van formaat word ingespan waar nodig. Die atletiekseisoen begin reeds in Oktober met ons interhuisbyeenkoms met verskeie aflosbyeenkomste wat volg. In die vierde kwartaal word die seisoen se voorbereiding voortgesit met deelname aan Top 10 byeenkomste. H.S. Overberg sal altyd ‘n krag wees om mee rekenskap te hou.

Gholf

Ovies neem aan die Suid-Noord Bolandskole gholfkompetisie deel. Die wedstryde word gedurende die eerste kwartaal op vier verskillende bane gespeel. Al die spelers speel vanaf ‘n 18 -voorgee. Na afloop van die kompetisie word die topspelers genooi na die Boland ope waaraan die beste spelers in die Boland deelneem.

Hokkie

Hokkie is ‘n gewilde sportsoort by die Ovies. Daar is 6 dogters- en 3 seunspanne. Henna (DuBuisson) Stone, ‘n voormalige Proteaspeler, is een van die hoogservare afrigters. Gedurende die April-vakansie word daar jaarliks ‘n afrigtingskliniek bygewoon waar die spelers ook aan ‘n toernooi deelneem en sodoende kosbare wedstrydtyd voor die formele seisoen kry.

Hoërskool Overberg het ook jaarliks verskeie hokkiespelers wat in die Bolandspanne opgeneem word.

Krieket

Krieket is een van ons hoofstroom seunsportsoorte wat tydens die eerste- asook vierde kwartale beoefen word. Hoërskool Overberg skryf jaarliks spanne in die O/15 sowel as O/19 plaaslike liga in. Ons beskik oor ons eie turfkolfblad by die skool asook vier oefennette op die terrein van die seunskoshuis. Die skool voorsien basiese toerusting terwyl ‘n boulmasjien vir die afronding van meer gevorderde spelers aangewend word.

Netbal

Netbal is een van die hoof wintersportsoorte en word deur ‘n groot getal dogters beoefen. Tans is daar 11 netbalspanne wat aktief tydens die seisoen wedstryde speel! Daar is vyf toegewyde, opgeleide onderwyseresse wat verantwoordelik is vir die afrigting en skeidsregting.

Tydens die seisoen is daar ongeveer 12 sportdae waaraan die spanne deelneem. Die voor-seisoen word begin met deelname aan ‘n verskeidenheid toernooie.

Om spangees en afrigtingsgeleenthede te skep, word spanne na afrigterskursusse en klinieke geneem of word dit plaaslik op die skool se eie bane aangebied vir al die spanne.

Rugby

Rugby is sekerlik die oudste sportsoort wat die skool aanbied. Meneer Pienaar, oudskoolhoof in die vyftigerjare, was immers ‘n Springbokkaptein!

Die skool het spanne in die volgende ouderdomsgroepe, 0/19, 0/16 en 0/15. Al die spanne word deur baie bekwame afrigters afgerig.
Die 0/19A-span neem tydens die April-vakansie aan die Oakdale Rugbyfees deel. Daar is jaarliks verskeie spelers wat vir provinsiale spanne gekies word.

Tennis

Hoërskool Overberg het 4 tennisspane wat in die streek meeding. Ons het ervare afrigters wat sorg vir goeie afrigting. Die skool se tennisbane is in 2022 oorgedoen.

Skaak

Ons skool het’n aktiewe skaakklub wat gereeld aan kompetisies deelneem.

Fietsry

Daar is onlangs ‘n bergfietsklub by die skool begin.  Die sport is nog baie nuut by HS Overberg, maar ons leerders wat reeds deelneem, vaar uitstekend.

Landloop

Die landloopatlete oefen dwarsdeur die jaar en neem aan verskeie kompetisies deel.   Landloop vorm ook ‘n belangrike onderdeel vir die kondisionering en fiksheid vir die wintersportsoorte..