Fasiliteite

Altiora Klubhuis

In 2017 is daar begin met opgradering van die klubhuis by Hoërskool Overberg. Die idee was om ‘n ontspanne, gesellige kuierplek te skep, waar die publiek, ouers en kinders kwaliteit koffie en iets te ete kan geniet. Die klubhuis is toegerus met alle noodsaaklike breekware wat dit moontlik maak om hierdie lokaal uit te huur. Die lokaal is groot genoeg om funksies van tot 32 mense te akkommodeer. Die dekor en pragtige uitsig vanuit die klubhuis maak verdere versiering onnodig. Daar is ook nou ‘n pragtige houtdek met tafels en stoele wat uitkyk oor die dorp en omgewing. Dit is ‘n ideale plek vir ‘n verjaarsdagviering, biduur en jaarafsluiting. Die kontakpersoon vir enige navrae en besprekings is Teresa Coetzee. Kontak haar en sy sal op haar vriendelike manier van diens wees. Kom maak gerus ‘n draai by ons eie “Koffiekuierplek” en geniet die mooi wat tot u beskikking is.

Blue Bells Restaurant

Gasvryheidstudie is ‘n beroepsgerigte vak wat leerders prakties en teoreties oplei vir beroepe in die Gasvryheidsbedryf. Hoërskool Overberg het ‘n goed toegeruste industriële opleidingskombuis en ook Blue Bells Restaurant wat vir opleiding sowel as funksies gebruik word.

Leerders kry tydens restaurantaande geleentheid om gaste te trakteer en word ook geassesseer. Sommige tree op as sjefs, ander as sommeliers of kelners. ‘n Wonderlike geleentheid om met die praktyk kennis te maak.

Huis Van Den Berg

Koshuisvader: Pieter Burger

Huis Van den Berg is geopen in 1952. Aanvanklik is daar seuns en dogters gehuisves. Met die  aanbou van Nerina koshuis is die dogters daarheen verskuif. Die koshuis kan 104 seuns huisves.

Die heerlikste gebalanseerde etes word daagliks bedien.
Die koshuis bied ook die volgende vir sy inwoners: Groot platskerm TV, DSTV, 2 “pool” tafels, 2 tafeltennistafels en ‘n gimnasium. Daar gaan in 2024 ‘n nuwe sportsentrum op die koshuisgronde gebou word. Daar is ook ‘n biokinetikus wat haar praktyk in die koshuisgebou het en wat haar dienste aan die skool se leerders beskikbaar stel.

Die hoogtepunte van die jaar is die koshuistroue, Kers-ete, die “pool”- en tafeltenniskompetisie, touchies, koshuisdans, braai-aande en ‘n skattejag wat deur die hele dorp gehou word en afgesluit word by die warmwaterbronne by The Caledon Spa.

Daar word ook in die middae en saans na ete heerlik tennis gespeel op die skool se tennisbane wat op die koshuisgronde geleë is.

Samehorigheid en gees onder ons koshuismanne is baie sterk en hier word jarelange vriendskappe en herinneringe gevorm.

Pieter en Elizna Burger

Koshuisprefekte

  • Alexander Nicholson (Hoofseun)
  • Rinus Beukes
  • Lorenzo Kroutz
  • Andrew Erasmus
  • Adriaan Punt
  • Jurie Beukes.

Nerina Koshuis

Koshuisvader: Mnr. Leandré Barnard

Nerina koshuis is in 1960 geopen en huisves 90 dogters. Daar word daarna gestreef dat dit ‘n tuiste weg van die huis vir ons inwoners moet wees. Dit is ‘n plek waar jy as dogter kan ontwikkel, vriendskappe smee en herinneringe bou.

Daar word deur die jaar verskeie aktiwiteite aangebied. Die koshuistroue, dinee, karaoke-aande, temaweke met aktiwiteite soos boeresport, krieket, fliekaande en koshuisdanse is maar ‘n paar van dié geleenthede. Daar is meestal vier leerders wat ‘n kamer deel. In graad 12 is daar twee leerders per kamer.

Dit is voorwaar ‘n voorreg om deel van die Nerina-familie te wees. Die meisies kry gebalanseerde etes waar die spyskaart spesiaal deur ‘n dieetkundige uitgewerk is. Die dogters se veiligheid en geluk is ‘n prioriteit en die koshuisouers skep daarom vir die dogters ‘n warm tuiste waar elkeen gekoester voel.

Leandré en Monique Barnard

Koshuisprefekte

  • Lenca Janse van Rensburg (Hoofdogter)

  • Ayana Clark

  • Chanté de Bruyn

  • Ciara Frans

  • Annebelle Jordaan

  • Lila Smal

  • Nina van der Werf

  • Zoë van der Werf