Die Ovies het rede om breëbors te wees: 100% – slaagsyfer vir die 5 de agtereenvolgende jaar; 13 A – gemiddeldes met SES kandidate bo 90% en 128 vak – A’s. Die spreekwoordelike kersie op die koek is  Anri Matthee (Dux – leerder met 94,5%), se uitnodiging na Leeuwenhof waar sy as die beste Afikaans Huistaal kandidaat in die HELE Wes- Kaap aangewys is! Sy beklee die tweede plek vir Duits Tweede Addisionele Taal en is sesde in die Wes – Kaap vir Ingenieursgrafika en Ontwerp.

Toe die Wes – Kaap se merietelys vir die onderskeie vakke bekend gemaak is, het die Ovies geskitter. Benewens Anri se drie plekke, het haar klasmaats ook hul deel gedoen: Albert Augustyn deel die  6de plek Ingenieursgrafika en Ontwerp saam met Anri; Uan Hermanus beklee die 4de  plek  in Rekenaartoepassingstegnologie;

Marina du Plessis staan op die  2de  plek in Landbouwetenskap met haar klasmaat, Benno Jacobs in die 9de plek. Lynn Fisher is  3de  in Afrikaans Huistaal en 9de in  Lewenswetenskap.

Sowaar 9 Ovies op die Wes – Kaap se merietelys – ‘n ongelooflike prestasie!

Tydens die Overberg Onderwysdistrik se Matriektoekenningsgeleentheid op 13 Januarie het die Ovies natuurlik die kalklig gesteel. Anri beklee die top – posisie in die Overberg, Albert Augustyn die tweede  en Lynn Fisher die derde plek. (Al drie hierdie leerders was ook hoofleiers in die skool)  Uan Hermanus beklee die 8 ste posisie en Hugo Kriel en Marina du Plessis deel die 9de plek. DUS: SES Ovies onder die top 10 in die Overberg! Elke leerder het ‘n sertifikaat en medalje ontvang.

Vir indiwiduele vakprestasies het die Ovies ook geskitter: Uan Hermanus is tops in Wiskunde (98%) en Rekenaartoepassingstegnologie(96%). Albert Augustyn is die toppresteerder in Fisiese Wetenskap (97%) en dan Anri met Afikaans  Huistaal 99%

Die Ovie – personeel is verheug oor hierdie pragtige uitslae – dis te danke aan passievolle onderwysers,  leerders en gewoon harde, konsewente werk. So word Hoërskool Overberg se leuse uitgedra: Ad Altiora – altyd hoër!