Op 25 Januarie het die jaarlikse opedag van Hoërskool Overberg plaasgevind. Graadses– en graadseweleerders van verskeie laerskole het die dag by die Ovies kom deurbring.

Die besoekers is deur ‘n erewag van die graadagleerders ontvang en in groepe ingedeel. Elke groep het verskeie stasies besoek en sodoende die Ovie-onderwysers leer ken. Hulle het ook ‘n kans gehad om die skool se fasiliteite te besigtig. Na ‘n heerlike worsbroodjie en sap kon hulle ook aan lekkernye smul wat deur die gasvryheidsleerders voorberei is. Elkeen het ook ‘n koevert met inligting en Ovie-geskenkies ontvang.

Na afloop van die groepsessies is die leerders en ouers na die pawiljoen waar verskeie sprekers onder leiding van meneer CM Augustyn die ouers en leerders toegespreek het.

‘n Hoogtepunt was definitief toe Willem Roux, hoofseun van 2020, ‘n toespraak gelewer het waarin hy ouers vertel het van die omgee en kwaliteitonderrig wat hy by Hoërskool Overberg ontvang het. Volgens hom is hy daarom toegerus om nou die universiteitslewe met selfvertroue aan te pak. Hy het dit beklemtoon dat leerders se individualisme gekoester word en dat elke leerder se uniekheid ontwikkel word. Volgens Willem word leerders nie as klone van ‘n sekere instansie die wêreld ingestuur nie, maar as inidvidue wat weet wié hulle is.

Daar is ook veral op die drie landbouvakke wat by die skool aangebied word, gefokus. Baie dankie aan Overberg Agri Implemente wat as deel van ons landbouuitstalling hul implemente by ons uitgestal het.

So ‘n dag verg goeie beplanning en baie harde werk. Positiewe en betrokke ouers speel ‘n groot rol in die sukses van ‘n skool en dit was ook sulke ouers wat hierdie jaar ons taak ligter gemaak het.

Ons bedank graag al die betrokke ouers vir hulle harde werk deurdat hulle die pawiljoen en vierkant in ‘n lushof vir die oog omskep het. Ook vir CM Augustyn en Willem Roux wat tydens die paneelbespreking die Ovie-hart aan ons besoekers gewys het.

PDF met Fotos